BURUNDI TREF VOORBEREIDINGS VIR BELANGRIKE VERKIESING TEN SPYTE VAN PANDEMIE

Burundi

Op Woensdag, 20 Mei vind Burundi se presidentsverkiesing sowel as parlementêre verkiesing plaas – vyf jaar ná die huidige president se omstrede derde ampstermyn wyd-verspreide geweld ontlok het. Die afgelope verkiesingsveldtog was die mededingendste stryd in bykans drie dekades, ná ’n uitgerekte burger-oorlog wat opgevolg is deur president Pierre Nkurunziza se bewind van 15 jaar. Ontleders is van mening dat daar ’n naelbyt stryd tussen die regerende CNDD-FDD-partykandidaat, Evariste Ndayishimiy, en die vernaamste opposisie, die National Congress for Liberty (CNL), se kandidaat, Agathon Rwasa, gaan wees. Sedert onafhanklikheid in 1962 verkry is, gaan Burundi onder konflik en onstabiliteit gebuk, wat moord, staatsgrepe, vlae etniese suiwering en burgeroorloë ingesluit het. Burundi sal die eerste land wees wat ’n presidentsverkiesing tydens die koronaviruspandemie hou – dít enkele dae nadat die owerheid die Wêreldgesondheidsorganisasie uit die land geskop het.

Uit ’n Christelike perspektief is gelowiges in Burundi versigtig-optimisties dat hierdie verkiesing die deurbraak kan wees waarvoor hulle al baie jare lank bid. Tydens die omstrede verkiesing van 2015 het ’n aantal pastore hulle teen die president se optrede om ’n derde termyn af te dwing, wat in stryd met die Arusha-vredesverdrag van 2005 was, uitgespreek. Talle is gevangeneskap opgelê, doodgemaak of in ballingskap gedwing. Christene was veel versigtiger gedurende dié verkiesings en het daarop gefokus om te bid, eenheid in hulle gemeenskappe te bevorder en versoening te bewerk. Die Anglikaanse Kerk in Burundi het in samewerking met die Verenigde Nasies se Kinderfonds (Unicef), ’n intensiewe opleidingskursus aangebied, om die jeug in vredestigting en sosiale samehorigheid op te lei. Hierdie is maar een van verskeie inisiatiewe wat deur die Kerk geloods is om mense die verkiesingstelsel met verantwoordelikheid te laat benader; verder dat hulle vóór, tydens en ná die verkiesings sal aanhou om vrede in hul gemeenskappe te bewerk.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n vreedsame en regverdige verkiesing;
  • vir ’n deurbraak in die politieke proses, wat tot meer stabiliteit sal lei; en
  • dat gelowiges standvastig sal bly in hul pogings om versoening en vrede te bewerk.

 

 

Foto: https://www.burundi-forum.org/wp-content/uploads/2020/05/bdi_burundi_CNDD-FDD_bubanza_mpanda_000_14052020_CNDDFDD-768×432-1.jpeg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES