20 MEI ’20 | BID VIR AFGANISTAN

20Mei20-Afganistan_Afr

Liewe gebedsvriende

Drie gewapende mans, vermom as polisiebeamptes, het op Dinsdag 12 Mei die kraamafdeling van ’n klein hospitaaltjie in die suid-westelike deel van Kaboel binnegestorm en blindelings begin skiet. Minstens 24 mense, onder wie pasgebore babas, moeders en verpleegsters, is in die aanval dood. Niemand het nog verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.

Op dieselfde dag het selfmoordbomaanvallers op ’n begrafnis, in die oostelike provinsie Nangarhar, toegeslaan en die lewens van 32 mense geëis. Hierdie aanvalle kan die vredesonderhandelings tussen die Taliban en die Afgaanse regering potensieel laat ontspoor. President Ashraf Ghani het die aanvalle veroordeel en die weermag aangesê om hul verdedigende taktiek te laat vaar en na ’n aanvallende benadering oor te skakel.

Afganistan gaan reeds vir meer as 18 jaar onder konflik gebuk. Op Sondag 17 Mei het die president van Afganistan, Ashraf Ghani en sy mededinger Abdullah Abdullah, ’n magsdelingsooreenkoms onderteken met die hoop om die maandelange politieke dooiepunt te beëindig. Daar word gehoop dat hierdie ooreenkoms ’n stabiele politieke struktuur tot stand sal bring, waarop voortgebou kan word om die langdurige oorlog te beëindig.

Afganistan is die tuiste van  ongeveer 37 miljoen mense, waarvan 0.1% van die bevolking bely dat hulle Christene is. Die bestaan van Afgaanse Christene word egter nie amptelik erken nie. Die enkele Afgane wat hulle geloof in Jesus beoefen, doen dit, uit vrees vir vervolging, nie in die openbaar nie en woon ‘ondergrondse’ kerke by.

Bid asseblief saam met ons vir ’n blywende deurbraak in die voortdurende konflik en lewensverlies in Afganistan.

Gebed is die hulpelose en behoeftige kind se smeking vir deernis uit die Vader se hart en vir oorvloed en krag uit die Vader se hand.” (E. M. Bounds)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES