DODELIKE OPROER IN VENEZUELA SE GEVANGENISSE

Venezuela

Sewe-en-veertig gevangenes is op 8 Mei dood en nog 75 beseer tydens ’n opstand in die Los Llanos- gevangenis in Venezuela. Dié stryd tussen veiligheidsmagte en gevangenes het nou in ’n “oorlog” ontaard. Langdurige voedseltekorte en ’n gebrek aan sanitêre leefruimtes – wat verder vererger word deur die koronavirus – het daartoe gelei dat wydverspreide, gewelddadige oproere in Venezuela vir maande lank al aan die orde van die dag is. Baie gevangenes in Venezolaanse tronke maak staat op voedsel wat familie inbring vir oorlewing, maar die land se COVID-19-inperkings het die hoeveelheid kos wat ingebring word, aansienlik laat krimp. Dít veroorsaak groot spanning by gevangenes. Die toestande wat Venezolane sowel binne as buite gevangenisse beleef, het daartoe gelei dat Human Rights Watch ’n ondersoek na die regering se behandeling van diegene wat die ergste deur die huidige ekonomiese krisis geraak word, geloods het. Die kwessies wat Venezolaanse gevangenes in die gesig staar, is egter nie beperk tot Los Llanos nie. Verskeie fasiliteite, sowel in Venezuela as El Salvador, Colombia en Peru, ervaar ’n toename in betogings en konflik tussen gevangenes en wagte as gevolg van swak lewensomstandighede.

Uit ’n Christelike perspektief is diegene wat in Venezuela en ander Latyns-Amerikaanse lande gevange gehou word, reeds jare lank aan afgryslike lewensomstandighede, groot voedseltekorte en ’n gebrek aan basiese sanitasie blootgestel. Die gevangenes se omstandighede, soos dié van ander gemarginaliseerde groepe, het die afgelope paar maande, namate die ekonomiese krisis verdiep het, weinig verbetering van regeringskant gesien. Die oorheersende godsdienstige instelling in Venezuela, naamlik die Katolieke Kerk, het as sodanig ingetree en ’n tweeledige benadering aangepak om diegene wat die swaarste ly, te ondersteun. Die kerk het die verantwoordelikheid om diegene wat honger, dors, naak of in die gevangenis is, te versorg. Matteus 25:45 sê: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir die herstel van vrede en stabiliteit in die Venezolaanse regering;
  • vir die nodige hulpbronne om voedsel, ensovoorts, aan die mees gemarginaliseerde gemeenskappe, insluitend diegene in die gevangenis te voorsien; en
  • dat die Kerk se optrede groter liefde, vrede en vergifnis sal aanwakker.

 

 

 

Argief foto: REUTERS / Manaure Quintero

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES