BETOGINGS IN IRAK HERVAT NA INHULDIGING VAN NUWE REGERING

Iraq

Irakkese betogers het, na maande se samesprekings ’n dooiepunt bereik het, op Saterdag 9 Mei weer die strate van Bagdad en ander suidelike stede ingevaar uit protes teen die nuwe regering van Mustafa al-Kadhimi, wat op Donderdag 7 Mei ingehuldig is. Ondanks Al-Kadhimi se besluite om betogers wat voorheen gevange geneem is, uit die tronk vry te laat en ’n alom gerespekteerde Irakkese generaal in beheer van antiterrorisme-operasies van die herlewende Islamitiese Staat te plaas, kon die antiregering-betogers nie oortuig word nie. Betogings teen ongebreidelde regeringskorrupsie, werkloosheid en swak dienslewering het aanvanklik gedurende Oktober 2019 uitgebreek. Met die verspreiding van die koronaviruspandemie het dit afgeplat, maar Al-Kadhimi se aanstelling vanuit die bestaande politieke bestel, het die betogers se woede weer laat opvlam.

Uit ’n Christelike perspektief word vrede dikwels as die “enigste hoop” vir ’n beleërde Christen-oorblyfsel in Irak geag – dit is egter nie noodwendig die geval nie. Christen-getalle het dramaties gedaal as gevolg van oorlog en die Islamitiese Staat se terreur-taktiek. Dit was egter te midde van hierdie onstuimige jare dat die Katolieke Universiteit in Erbil (KUE) in 2015 gestig is om die teenwoordigheid van die Christendom in Irak te bevestig. Dit was vir meer as 1,400 jaar in Irak en die grootste deel van die Midde-Ooste vir Christene verbode om ander the evangeliseer. Daar was ’n ongeskrewe reël dat Christene nie openlik sou sendingwerk doen deur die evangelie met ander te deel en sodoende die sharia-wet minag nie. Volgens die KUE-stigter, aartsbiskop Bashar Matti Warda, is hierdie ooreenkoms egter nou nietig. Hy verklaar: “Ons sal voortaan nie meer skaam wees nie. Ons gaan die evangelie en die lering van Christus verkondig en wie ook al na ons toe kom, sal kom.”

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Dat die Here die betogings sal gebruik om blywende verandering in die land teweeg te bring;
  • dat Irakkese Christene bakens van hoop en lig sal wees te midde van die voortdurende onrus; en
  • dat gelowiges moedige getuies sal wees en die evangelie met vrymoedigheid sal deel.

 

 

 

Foto: REUTERS / Khalid Al Mousily

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES