SEPARATISTE VERKLAAR ONAFHANKLIKE REGERING IN SUID-JEMEN

Yemen separatists

Die Suidelike oorgangsraad, ’n groep Jemenitiese separatiste, het ’n onafhanklike regering in verskeie suidelike provinsies in Jemen verklaar. Dié magsverklaring is strydig met die Riyadh-ooreenkoms, ’n magsdelingsooreenkoms wat in November 2019 deur die separatiste en die Jemenitiese regering onderteken is. Dit het behels dat die regering herorganiseer word en die militêre- en veiligheidsmagte onder beheer van die departement van binnelandse sake geplaas word. Hierdie bepalings is egter nog nie ten volle geïmplementeer nie. Die Suidelike oorgangsraad word deur die Verenigde Arabiese Emirate ondersteun, terwyl die Jemenitiese regering die steun van Saoedi-Arabië geniet. Ondanks die magsverklaring het ses van die agt suidelike provinsies die raad se bewind verwerp. Die stryd tussen die twee groepe duur al sedert 2015, toe ’n opstand in ’n burgeroorlog ontaard het wat gedurende die afgelope vyf jaar een van die wêreld se ergste humanitêre krisisse teweeggebring het.

Uit ’n Christelike perspektief is dit maklik om na die situasie in Jemen te kyk en slegs die oorlog, onstabiliteit, hongersnood en hopeloosheid raak te sien. Hoewel die Kerk vir hierdie sake moet bid, moet daar ook vir Jemen uit God se oogpunt gebid word, met die vertroue dat die Here getrou aan die Jemeniete sal wees en dat Hy nie beheer oor die situasie verloor het nie. Jemen het ’n Moslem-bevolking van 99.6%, wat beteken dat die Kerk in Jemen klein is en hewig onderduk word. Hulle het waarlik die globale Kerk se gebedsondersteuning nodig vir vrede, versorging en voorsiening in die maatskaplike en geestelike behoeftes van die mense.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir konstruktiewe dialoog tussen die Suidelike oorgangsraad en die regering, sodat ’n blywende en vreedsame ooreenkoms bereik kan word;
  • dat fisiese hulp diegene wat onder die wêreld se ergste humanitêre krisis deurloop, sal bereik; en
  • dat gelowiges nie sal moed opgee om vir Jemen te bid nie, maar dat hulle harte gevul sal word met geloof en hoop vir die mense.

 

 

Foto: https://www.arabnews.jp/en/wp-content/uploads/sites/2/2020/04/2080986-1315745401.jpg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES