HEWIGE SPEKULASIE OOR NOORD-KOREAANSE LEIER SE GESONDHEID

Kim

Kim Jong-un, die Noord-Koreaanse leier, is reeds meer as twee weke nie in die openbaar gesien nie, terwyl die wêreld min gegewens het oor sy gesondheidstoestand óf waar hy hom bevind. Spekulasie is aan die orde van die dag – nie eers Donald Trump, die Amerikaanse president, (wat ’n redelike verhouding met Kim opgebou het), kan met sekerheid sê hoe dit met hom gaan nie. Die geheimsinnigheid wat elke amptelike verklaring uit Noord-Korea omhul, maak dit feitlik onmoontlik om ’n ware beeld van die stand van sake ten opsigte van die leierskap in daardie land te vorm – en dit sluit die gesondheidstoestand van die Kim-familie in. Kim Jong-un se afwesigheid sedert 11 April, toe hy die regerende party se politburo-vergadering gelei het, het verskeie teorieë die lig laat sien, onder andere dat hy óf ernstig siek of dood is, óf dat hy met vakansie is, of selfs dat hy homself isoleer as gevolg van die koronavirus-uitbraak (wat volgens die Noord-Koreaanse media die land glad nie geaffekteer het nie). Die feit dat hy op 15 April die jaarlikse viering ter ere van sy oupa, Kim Il-sung, die eerste keer sedert sy bewindsoorname in 2011, misgeloop het, het bespiegelinge erg laat opvlam.

Uit ’n Christelike perspektief het die Noord-Koreaanse regering sedert sy ontstaan, Christelike aktiwiteite konstant onderdruk. Die Evangelie van die Koninkryk het egter ’n nalatenskap in Noord-Korea, ook binne die Kim-familie: Kim Jong-un se oupagrootjie was ’n deeltydse protestantse sendeling; sy oumagrootjie se naam, Kang Pan-sok, is die Koreaanse woord vir “Petrus”, want sy is glo vernoem na Jesus se dissipel met dieselfde naam. Ons weet nie hoe hulle lewens gelyk het of hoe hulle in hul familie en nasie ‘gesaai’ het nie, maar ons ken die Here wat ons dien, en Hy is getrou, selfs wanneer sy volk nié is nie. Deuteronomium 7: 9 sê: “Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam…”  Ons weet nie wat die breuk in die Kim-familie veroorsaak het nie, maar ons kan bid dat die Here in Kim Jong-un se hart sal werk soos hy in dié van sy voorvader gedoen het, veral in hierdie tyd waarin hy na alle waarskynlikheid met sy eie sterflikheid gekonfronteer word.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Dat Kim Jong-un in hierdie tyd ’n ontmoeting met die Here sal hê en dat hy fisies in staat sal wees om hom te bekeer;
  • dat Noord-Koreaanse gelowiges standvastig sal bly in hul geloof; en
  • dat gelowiges vanoor die hele wêreld, nou meer as ooit, vir hierdie nasie sal bid; veral in hierdie tyd, dat daar ’n deurbraak sal wees.

 

 

Argief foto: REUTERS/KCNA

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES