29 APRIL ’20 | BID VIR JEMEN

29Apr20-Jemen_Afr

Liewe gebedsvriende

Kitsvloede in Jemen het tot gevolg gehad dat minstens agt mense dood en 85 beseer is, terwyl byna 15,000 mense in Aden – wat tot rampgebied verklaar is – ontwortel is. Die Verenigde Nasies werk saam met die regering van Jemen om die ontworteldes se behoeftes te bepaal. Die situasie dra by tot Jemen se, reeds lang lys, krisisse.

Aangesien Jemen een van die grootste cholera-uitbrake in die onlangse geskiedenis beleef het, het gesondheidspersoneel vreesbevange gewag op die koronavirus-uitbraak. Die eerste geval van COVID-19 in Jemen is op 10 April aangemeld. Hulporganisasies vrees die ineenstorting van die gesonheidstelsel, wat reeds deur jare lange konflik tussen die regering en Houthi-rebelle, verswak is.

Verlede maand het Antonio Guterres, sekretaris-generaal van die V.N., ’n wêreldwye wapenstilstand bepleit sodat daar op die bestryding van COVID-19 gefokus kan word. Die Houthi-rebelle wat teen die Saoedi-geleide koalisie veg, het egter nie die wapentilstand ondersteun nie, met die gevolg dat geweld in sommige streke voortduur. Meer as drie miljoen Jemeniete is plaaslik weens die konflik ontwortel. Die meerderheid woon in kampe en loop gevaar om met siektes soos cholera, malaria en nou ook COVID-19, besmet te word en dit te versprei.

Volgens The Joshua Project het Jemen ongeveer 28 miljoen inwoners, waarvan 99.6% as “onbereik” met die Evangelie van Christus beskou word. Op Donderdag 23 April het die “heilige maand”, Ramadan vir Moslems regoor die wêreld (ook vir diegene in Jemen) aangebreek, waartydens hulle daagliks, tot Saterdag 23 Mei, van sonop tot sononder sal vas. Gedurende dié tyd van groter sensitiwiteit vir geestelike aangeleenthede, is Moslems dikwels meer geneë om geestelike sake te bespreek – veral tydens die huidige wêreldkrisis. Daar is talle voorbeelde van getuienisse, oor jare heen, vanuit sowel die Midde-Ooste as vanoor die hele wêreld, dat Jesus juis oor hierdie tydperk in drome en visioene aan mense verskyn het.

Bid asseblief saam met ons vir Jemen, terwyl die land verskeie krisisse beleef; dat Christus Homself gedurende hierdie tyd van Ramadan aan Jemeniete sal openbaar.

“Van al die kragte is gebed die grootste, omdat dit eer aan God bring en Hom aktief tot ons redding laat kom.” (E. M. Bounds)

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES