STAAT VAN INPERKING – TOENAME IN AANTAL LANDE WAT STRENG BEHEERMAATREËLS INSTEL

house-4952681_1920

Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa het op Maandag 23 Maart die ongekende stap geneem om ’n landswye staat van algehele afsondering oftewel inperking aan te kondig om die verspreiding van die nuwe koronavirus (Covid-19) te stuit. Suid-Afrika sluit aan by ’n toenemende aantal lande wat streng beheermaatreëls tref. Die Britse eerste minister, Boris Johnson het ook Maandag, die strengste beperkings sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Brittanje, aangekondig. Vier lidlande van die Europese Unie – Italië, Spanje, Frankryk en België – is ook in ’n algehele staat van inperking geplaas. In Indië – die land met die naasdigste bevolking – het die eerste minister Narendra Modi op Dinsdag 25 Maart ’n staat van nasionale inperking afgekondig vir dié land se 1.3 miljard mense. In Amerika het nog state Maandag besluit om hul eie ingrypende tuisbly-bevele op te lê, wat binnekort meer as 158 miljoen Amerikaners in 16 state sal raak. Terwyl  amptenare in Wuhan – die Chinese stad waar die wêreldwye koronavirus-uitbraak begin het – aangekondig het, dat die staat van inperking (wat in Januarie geïmplementeer is) op 8 April gedeeltelik opgehef sal word.

Uit ’n Christelike perspektief het gelowiges regoor die wêreld ’n verskeidenheid aksies geloods om in verbinding te kan bly in ’n tyd van ernstige beperkings. Aanlyn-kerkdienste en -hulpbronne het eksponensieel toegeneem. Baie gelowiges benut die geleentheid, wat die huidige krisis bied, om woorde van bemoediging te spreek en hoop te bied, binne hul invloedsfere. Dit is noodsaaklik dat Christene instrumente van vrede moet wees gedurende hierdie tyd van uiterste vrees en onsekerheid. Psalm 91 is ’n pragtige herinnering daaraan dat die Here ons “toevlug en [ons] veilige vesting” is, die Een “op wie [ons] vertrou”.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir wêreldleiers, aangesien hulle ’n geweldige verantwoordelikheidslas namens hul burgers dra;
  • dat mense konstruktief saam met hul leiers sal werk; en
  • dat gelowiges die voorbeeld sal stel hoe om hierdie krisis op só ’n manier te hanteer, dat God die eer kry.

 

 

Illustrasie: Pixabay/Gerd Altmann

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES