HAFTAR GAAN VOORT MET AANVALLE OP TRIPOLI, TERWYL DIE WÊRELD OP PANDEMIE FOKUS

Libya

Op 19 Maart het die swaar bombardement deur die militêre bevelvoerder Khalifa Haftar se magte, die lewens van ten minste vyf burgerlikes in Libië se hoofstad, Tripoli, geëis. Die slagoffers was meestal vroue tussen die ouderdomme van 14 en 20 jaar, terwyl vyf ander beseer is in die jongste aanval in die voortdurende oorlog tussen die oostelike en westerse regerings in Libië. Die Verenigde Nasies het die aanval wat deur die Libiese Nasionale Leër onder leiding van Haftar uitgevoer is, veroordeel. Haftar is die mag agter die regering aan die oostekant van die land. Die oostelike regering word deur Egipte en Saoedi-Arabië ondersteun, terwyl die westelike regering deur Turkye en ander Westerse lande gesteun word. Op 17 Maart het baie Westerse en Arabiese lande ’n beroep op alle partye gedoen om ’n wapenstilstand te aanvaar en hul eerder in te span om die koronavirus-pandemie te bekamp. Terwyl Libië geen gevalle van koronavirus aangemeld het nie, het die Wêreldgesondheidsorganisasie gewaarsku dat die land nie op ’n uitbraak voorbereid is nie. Alle grense is tans vir sowel Libiese burgers as buitelanders gesluit. Vorige diplomatieke en politieke pogings om vrede te bewerkstellig was onsuksesvol.

Uit ’n Christelike perspektief word die Christelike Kerk in Libië nie erken nie en gelowiges hou hul geloof dikwels ’n geheim, uit vrees vir ernstige vervolging. Toe die oorlog in 2011 begin, het baie Christene (hoofsaaklik uitgewekenes) na veiligheid gevlug, wat ’n reeds klein groepie gelowiges verder uitgedun het. Die land was in byna konstante onrus sedert Muammar Gaddafi in 2011 ontsetel is, so daar was min kans vir Libiese gelowiges om terug te keer huis toe, of vir die Kerk om veel hulp van buite te ontvang. Volgens Reuters is daar egter ’n klein aantal gelowiges in Libië, ook in Tripoli. Die druk wat op Libië geplaas word om koronavirus-protokolle, soos sosiale distansiëring en afsondering, te volg, sal die klein groepie Christene verder isoleer en tot hul reeds moeilike omstandighede bydra.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Vir ’n blywende wapenstilstand in Tripoli en omliggende gemeenskappe;
  • dat die koronavirus voorkom sal word om te versprei na dié kwesbare en oorlog-geteisterde land; en
  • dat gelowiges die Here se beskerming sal ervaar en Hom as die God van hoop sal leer ken.

 

 

Foto: REUTERS/ Esam Omran Al-Fetori

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES