MALAWIESE HOF VERKLAAR MUTHARIKA SE HERVERKIESING NIETIG EN GEE OPDRAG VIR NUWE VERKIESING

Malawi

3 Februarie was ’n geskiedkundige dag in Malawi, toe ’n paneel van vyf regters van die hooggeregshof uitspraak gelewer het en die herverkiesing van die sittende president, Peter Mutharika, nietig verklaar het en opdrag gegee het dat ’n nuwe verkiesing binne 150 dae gehou moet word. Regters het bevind dat die verkiesing gekenmerk is deur geweldige onreëlmatighede, wat die uitslae ernstig in gedrang gebring het. Sedert die omstrede herverkiesing van Mutharika op 21 Mei 2019, met slegs 38.5 persent van die stemme, het sporadiese betogings, in hierdie gewoonlik vreedsame land, uitgebreek. Die opposisieleier, Lazarus Chakwera, wat met slegs 159,000 stemme verloor het, het volgehou dat hy van ’n oorwinning beroof is en was een van dié wat die aansoek voor die hof gebring het om die uitslag nietig te verklaar. Dit is die eerste keer, sedert hul onafhanklikheid van Brittanje in 1964, dat ’n presidensiële verkiesing opgrond van wetlike aspekte in Malawi betwis word. Na verwagting sal Mutharika se party waarskynlik ’n appèl by die hoogste hof indien. Opposisieleiers en regeringswoordvoerders het Malawiërs versoek om die hof se uitspraak te respekteer en hul nie tot geweld te wend nie.

Uit ’n Christelike perspektief was daar baie Christen- en gemeenskapsleiers wat Malawiërs aangespoor het om vir die regsproses en die regters wat die saak moes oorweeg, te bid. Die feit dat daar aantygings oor omkopery, wat miljoene beloop het, was en tog het die regters dit weerstaan en gekies om vir die waarheid op te staan, is prysenswaardig. Baie beskou hierdie uitkoms as ’n broodnodige, geregtige antwoord op gebed. Spreuke 29:2 herinner ons dat: “As die regverdiges talryk word, is die volk bly; maar as die goddelose heers, sug die volk”. Chakwera, ’n predikant en die voormalige hoof van Malawi se Assemblies of God, het dié pos in 2013 bedank om sy aandag op die politiek te vestig en het herhaaldelik sy begeerte om die nasie as ’n “Dienskneg herder” te lei, uitgespreek. Hy het belowe om korrupsie uit te roei en die ekonomiese groeikoers in een van die wêreld se armste lande, te verdubbel.

Bid saam met ons vir die volgende:

  • Dat die hof se uitspraak wyd en vreedsame aanvaar sal word;
  • vir die herstel en groei van die land; en
  • dat die Kerk in Malawi ’n beduidende rol in die heropbou van vertroue en harmonieuse verhoudings regoor die land, sal speel.

 

 

 

 

FOTO:  https://234radio.com/wp-content/uploads/2020/02/2629a726ddcd4bdb8453474fa60a8059_18.jpg

print
SHARE THIS

RELATED ARTICLES